Sunday, May 13, 2007

Deel jou herinneringe

Hoe onthou jy iemand in ‘n paar woorde op ‘n digitale bladsy? Hoe kan een mens vir almal vertel dís hoe ouma Annie was en dís wat haar aan die gang gehou het?

Miskien lê die antwoord nie by een persoon nie, maar eerder in die gesamentlike herinneringe van elke kind, kleinkind, vriend en vriendin wat ‘n pad saam met ouma gestap het.

So deel asb. jou herinneringe van ouma Annie hier onder, deur op die "Post a Comment" skakel te kliek en 'n boodskap te los.



9 comments:

Gideon said...

My hardekoejawel ouma

Daar’s ‘n foto van ouma wat my pa met ‘n vy gooi na hy haar op kamera gevang het skelmpies vye eet, wat vir my een van die beste illustrasies van ouma se karakter is. Iemand wie se skel en se lag baie naby aan mekaar gesit het.

Waar oupa Gielie die een was wat vir ons hout speelgoed gemaak het, skelmpies pruime gevoer het tot ons mae gewerk het, en ons gatte warm geslaan het wanneer ons baklei het oor die houtblokkies wat hy vir ons gemaak het (en dan stilletjies gaan huil het daaroor), was ouma Annie ‘n lekker sagte drukkie-gee ouma (jy wil haar net ‘n drukkie gee omdat sy so lekker sag was).

Die tipe ouma wat nie nonsens vat van jou nie, en wat jou swaer skel by jou broer se troue omdat hy haar met ‘n videokamera afneem, maar dan lekker uit haar maag lag as hy vir haar sê sy moenie vloek op die video nie. (Ja, die lag en die skel het baie naby aan mekaar gesit.)

‘n Ouma wat ‘n verwyt kan laat val soos min, maar ook ‘n intense lojale persoon was wanneer dit by familie kom. Vir ouma Annie was familie alles - om agt kinders groot te maak en drie van hulle voor hul tyd te sien heengaan, sit nie in enigiemand se broek nie.

Ouma was een van die sterkste mense wat ek ken - miskien is dit goed verbloemde hardgebaktheid, maar aan die einde van die dag was ouma ‘n vegter. Selfs ‘n heupvervanging en hartomleiding op haar oudag kon haar nie onder kry nie.

Ons gaan ons deeg-knieënde, harde koejawel ouma met haar groot hart mis. Maar tog, in die middel van die hartseer, sal ons glimlag in die wete dat die hemel ‘n baie beter plek is, waar oupa Gielie al lankal vir haar wag, en waar die familie vir wie sy so lief is, haar ook weer sal sien.

andri nieuwoudt said...

Al het ons die doodding verwag is dit altyd maar nie lekker om weer daarmee gekonfronteer te word nie.
Die enigste manier om Ma te onthou is om deur my lewe vir ma te onthou en so 'n herrinering uit te leef.
As dit nie vir die skelm in die hand stop van beskuitbak verdiende geld met die klim op die bus na Springbok was nie , sou ek nie soveel kennis van die anner geslag op kon bou nie----kyk waar het dit my nou gebring. Als haar skuld!
In enige verhouding met 'n ander mens is daar altyd deel van daai mens wat oorgroei in jouself in: daar is so baie van ma in my dat ek net kan sit en dink en onthou.
Dankie vir dit wat ek ontvang het.
Andri

Jan said...

Elke mens het sekere unieke eienskappe. Ek as jongste van haar 8 kinders is die een wat baie gehoor het hoe sy my voortrek. So ek dink ek kan boeke skryf oor haar eienskappe en al haar kinders het van hulle geerf.

Gewoonlik wanneer iemand tot sterwe noem almal altyd die persoon se goeie eienskappe. Ons Nieuwoudts is mense wat nie baie daarvan hou om gekomplimenteer te word nie, miskien net so 'n bietjie en daarom is ek seker sy sou wou hê ek moet begin met die swakere een.

Sy was 'n persoon gewees wat maklik iets sê voordat sy dink. Die slim mense noem dit 'n wag voor die mond. Sjoe ek sukkel nog amper daagliks om daai een af te leer. Basies dis al slegte een wat ek aan kan dink.

Die goeies en daar is hordes en sal ek maar net so 'n paar noem.

Sy was 'n persoon wat nooit oor haar eie omstandighede sou kla nie. Ek dink dis die een wat die beste was en almal van ons kan probeer en onthou sy was 'n vrou. Maryna vertel my dat sy 'n dag of twee voor haar dood in die siekeboeg die suster geroep het in die middel van die nag. "Smeer asb van Maryna se salf wat ek vir my rumatiek arm gebruik aan die vrou wat so kla se p..ph.l dat sy kan ophou kla. Dit was Annie daai op haar beste. Dit was vir haar bitter swaar die laaste weke dat sy met hulp moes stap, met hulp moes toilet toe gaan, want sy wou dit als self doen.

Die ander goeie eienskap wat ook baie van ons geerf het, is dat sy baie lief was vir praat. Ek is vandag oortuig dat dit haar laaste spyker was. Die Saterdag voor haar dood kon ek die pleit in haar oë sien toe sy nie meer kon praat na haar tweede aanval nie. Enige kommunikeerder se droom was sy en daarom het ons die ekstrovert gene. Dankie ma.

Die ander goeie een was dat sy 'n baie privaat persoon vir haar liggaam was. Ek was lank of sal ek sê altyd die baba in die huis. Nooit ooit kan ek onthou dat ek haar net met 'n bra in die huis gesien het. Sy het geglo aan haar privaatheid en dink ek dit was vir haar baie moeilik in die laaste tyd dat sy moes hulp kry vir die privaat goed.

Die laaste een wat ek sal noem is dat in die ouerhuis wat ek groot geword het, was daar verskille maar nooit fights tussen ons ouers voor ons nie.

Dankbaar vir my twee ouers en ek is nie vandag hartseer nie, nee ek is bly, want ek weet as daar een persoon hemel toe is, is dit sy en is ek dankbaar dat ek haar net liefde en vreugde tot haar laaste dag kon gee om dankie te sê vir my opvoeding en vir die belangrike rol wat sy in my lewe kon speel.

Hieronder is die dinge wat sy my geleer het.

1. Sy het my geleer om WERK WAT GOED GEDOEN IS TE WAARDEER
"As julle mekaar wil doodmaak, doen dit buite - ek het nou net klaar skoon gemaak."


2. Sy het my van GODSDIENS geleer.
"Jy beter begin bid dat die kol uit die mat kom."


3. Sy het my geleer OM IN TYD TE REIS
"As jy nie opruim nie foeter ek jou tot in volgende week in."


4. Sy het my LOGIKA geleer.
"Want ek sê so, dis hoekom."

5 . Sy het my geleer om VOORBEREID te wees.
"Trek skoon onderklere aan vir ingeval jy in 'n ongeluk kom."


6. Sy het my IRONIE geleer.
"Hou aan lag en ek gee jou iets om oor te huil."


7. Sy het my oor WETENSKAP VAN OSMOSE geleer.
"Maak toe jou mond en eet jou kos."


8. Sy het my van UITHOUVERMOË geleer.
"Jy sal daar bly tot al jou spinasie klaar is."


9. Sy het my van die WEER geleer.
"Dit lyk asof 'n tornado deur jou kamer was."


10. Sy het my van SKYNHEILIGHEID geleer.
"Ek het jou 'n duisend maal gesê, moenie oordryf nie."


11. Sy het my van GEDRAGSVERANDERING geleer.
"Hou op om soos jou pa op te tree."


12. Sy het my van JALOESIE geleer.
"Daar is duisende onbevoorregte kinders op die aarde wat enige iets sou gee om ouers soos jy te hê."

Annie en Gielie julle was spesiale ouers gewees en die voorbeeld waarna ek net kan smag om te wees.

Anonymous said...

Hoe sonder jy iets uit van iemand wat jy 62 jaar geken het? Seker maar ma se onblusbare lewenslus. Net 2 weke gelede het sy begin "werk" aan 'n braai by
Annelise & Jacques met vleis wat Adele se Len moes voorsien - was so lus vir vleis! Die foto gaan oor daardie sonneblom in die hand. Sy't verlede Mei maand by ons in Kleinbaai kom kuier met die veronderstelling dat sy op die boonste verdieping van die huis sou bly.O nee, nie vir haar nie, elke dag as die nuuskierigheid of kosreuke haar oorval het, moes Len haar trap af help en nadat sy Tassie se sonneblomme gaan "uitcheck" het en bietjie rondgeloop het weer met haar die trappe opsukkel.

Ek onthou dat ons 'n gelukkige kinderlewe gehad het, nie baie aan aardse goed nie, maar baie sekuriteit en ons het baie gelag. Sy't my geleer om nooit te gaan lê na teleurstellings nie en om te lag met 'n traan. Pa het altyd gesê dat sy al parmantiger raak op haar oudag. Hy was reg, want as kind het ek haar as die sagmoedige een ervaar wat ons struwelinge (en daar was baie!) met 'n sêding kon ontlont. Sy't nie nonsens gevat nie, maar was kinnerlik afhanklik van haar kinders & kleinkinders se liefde en aandag. Ek was en is trots op en baie lief vir my ma......

Maryna

Anonymous said...

Hoe geseënd is ons nie om soveel wonderlike en mooi herinneringe van ons ouma en oumagrootjie te kan hê nie. Sy was in alle opsigte vir my 'n rolmodel. As ek terugdink aan my kinderdae, dan onthou ek hoe ouma se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Sy kon binne minute 'n hele huis vol honger kinders voed. Daar was altyd die reuk van beskuit wat gebak word. Ek en oupa het gereeld saam gekonkel om ons gunsteling "jamtertjies" te kry. Ek het ook altyd so 'n ekstra stukkie biltong skelm gekry - die oudste kleinkind se voorreg! Daar was darem ook die keer toe ek met 'n nat afdroogdoek gepiets is omdat ek vir die soveelste keer die stof voor die besem weggeskop het......

Wanneer ek resepte gesoek het of bietjie advies oor die lewe wat swaar druk, was ouma altyd beskikbaar. Tydens my tydperk wat ek erg geestelik en fisies swaar gekry het met my siekte (Meniêre sindroom) het ouma my ondersteun met telefoon oproepe en gebede. Sy het my geestelik baie gehelp en vir my geleer waar ons krag vandaan kom. Ouma Annie was ook skaamteloos lief vir haar agter-kleinkinders en ons moes met elke besoek by die ouetehuis eers die hele gang se inwoners besoek sodat sy so bietjie kan gaan "brag". Nog nooit het ek iemand anders ontmoet wat so kwaai kan wees met sulke sagte oe nie! Ek is onbeskryflik dankbaar vir die voorreg wat ons gehad het om haar vir so 'n lang tydperk deel van ons gesin te kon he. Ons sal haar baie mis, maar gun haar nou die rustigheid daar in haar losie (weg van die ou mense) waarvandaan sy ons almal gelyk kan dophou. Ek hoop dat ek en ons kinders hier op aarde haar voorbeeld sal kan navolg en haar trots kan maak op ons. Ouma Annie, ons is baie lief vir jou....

Anonymous said...

Hier is die notas van wat pa Len in kerk gesê het. Ek weet dit is my pa, maar sjoe! hy mag maar 'n toespraak lewer. Hy het ouma se lewe en persoonlikheid so kort en kragtig opgesom. Ek weet hoe moeilik dit vir hom was om te praat sonder dat die emosies oorneem. Hierdie gedagtes kom opreg en diep uit sy hart. Ek wou net hê dat die van julle wat nie die diens kon bywoon nie ook moes "hoor" wat daar gesê is.

1. Ek ken vir ma Annie al 43 jaar. Hoewel ek skoonseun was, het sy my soos eie kind ingeneem. Ons het vir die langste tydperk naby ouma hulle gewoon. Sy was deel van ons gesin - huwelik, kinders, kleinkinders. Sy was altyd daar en betrokke by almal.

2. Doel: haar doel op aarde - geroepe deur Hemelse Vader om moeder, ouma en oumagrootjie te wees. Sy het dit so goed gedoen dat sy met 8 kinders en 'n groot getal kleinkinders en agterkleinkinders geseën is. Sy is gespaar vir ons om hierdie taak te verrig tot op 86 jaar. Veral na skoonpa se dood het sy die "Aardsmoeder" van die familie geword.

Sy was: Bron van familie-inligting
Databasis bedryf sonder rekenaar
Kommunikasie netwerk aan die gang gehou - op hoogte van alle familie sake te alle tyd vanuit klein kamertjie in Edelweiss

Gehad: Lewenswysheid en insig - kon haar kontak oor enige probleme.
Geestelike wysheid en insig - raad, voorligting en leiding gegee.
Luister - indien ons na haar advies geluister het, het ons beter anderkant uitgekom. Was ons hardkoppig, het ons slegter daaraan toe gewees.
Altyd gehou op reguit en smal pad.

Moes: Altyd deel van familie wees.
Op hoogte wees van almal en alles
By alles betrek - of ons wou of nie
Altyd in die bondel gewees
Altyd betrokke en erken word.

Situasie nou: Ons netwerk bestuurder is nie meer daar nie
Stem oor telefoon stil
Nie meer fisies by ons nie MAAR steeds in ons gedagtes, 'n rol speel in toekoms en in ons besluite.
Indien ons luister na haar in ons gewetens en gedagtes sal ons nooit verkeerd gaan nie.

3. Kleinkinders en agterkleinkinders sal ouma mis, maar as ons net ons oë toemaak en luister sal ons haar hoor praat. As ons haar advies of antwoorde nodig het, sal sy dit steeds vir ons gee.

Jan Nieuwoudt said...

Inleiding

Ek wil net vir Gideon dankie sê vir die opstel van die web tuiste. Dit gee ons Nieuwoudt kinders die geleentheid om al ons wedervaringe op papier te sit en vir die nageslagte te bewaar.

Elkeen van ons sal sy eie Nieuwoudt ervaring kan vertel en moet dit ook doen want Oupa Gielie he t ons altyd bymekaar getrek en ons was ‘n warm en groot familie. Ek as die jongste sal begin met myne, miskien omdat myne laaste gebeur het en vars in die kop is. Het as kind altyd die jongste gewees en vandag is dit met my jongste ook die geval. Ek en Janlu is die overlapping van geslagte in die familie.

Oupa Gielie was ‘n persoon wat ek sal onthou as iemand wat nooit familie verbyry nie. Ek kan onthou as kind dat ons min dorpe verbygegaan het waar daar nie gestop is om familie te groet en te kuier nie.

Was ek verbaas gister toe ek deur Maryna se aktetas gaan en wraggies my eie doopseël daar vind. Ook Oupa en Ouma s’n wat in 1939 uitgereik is asook hulle twee se skool sertifikate. Ouma Annie het wraggies Duits geneem as vak.

Ek dink die beste is om te begin by die begin en dit is by die groot ouers en oupa en ouma se gesinne. Die stories is maar net soos dit in my kop kom en hoop ek gee nie aanstoot nie.

OUPA GIELIE se ouers

Oupa Gideon
Ek kon hom glad nie onthou nie want hy was oorlede toe ek nog baie klein was. Kon net onthou dat ons ouers na sy begrafnis was.

Ouma Ennie (nooi Schreuder)
Vir haar onthou ek goed. Ek moes altyd op haar skoot sit en die grys hare uitpluk. Sy het my 1c per haar betaal. Ek onthou ook dat ouma Annie altyd gekla het dat sy altyd oupa Gielie se kant gevat het.

Ouma Ennie was ook die oorsaak van een van my pakslae wat ek nooit sou vergeet nie. Ek was so in standerd drie, graad vyf volgens vandag se standarde dat ek en ‘n pel, Pieter Oosthuizen (bekende krieket joernalis by Beeld,) besluit het ons wil ‘n sigaretjie rook. Ouma het altyd gekla dat sy nie goed kan sien nie, iets wat ek vandag verstaan met die ouderdom. Ek en Pieter het pa se Rembrandts (geel pakkie) in die sitkamer gevat voor haar en is na my kamer toe. Ons was so halfpad besig met die sigaret toe vang ouma Annie ons “red handed”. Dit is die enigste pak wat sy my gegee het wat ek kan onthou.

Sal nooit daai sweepie vergeet nie. Daai sweepie het strepe soos Alexanderbaai se grond paaie oor my sterre getrek. Gelukkig het Andri my geleer van kleintyd af op watter tydstip om hom weg te steek. As ouma hom soek en Andri blameer, want hy is in die koshuis, het ek lekker in my stilligheid gelag.

OUMA ANNIE se ouers

Oupa Wit Sarel. Kan net onthou dat ek as ‘n baie klein seuntjie vêr ente saam met hom gaan stap het. Ouma Annie het darem baie van hom vertel. Weet dat haar godsdiens onderrig van hom af gekom het. Oupa Sarel was Kliprand se predikant en het baie dienste daar gelei.

Ouma Miemie. Kan niks van haar onthou nie en sy was oorlede toe ek gebore is.

Voor ek met die broers en susters kom wil ek net noem dat Ouma Annie die laaste lewende Meyer was en bly van albei geslagte net oom Kobus oor.




OUPA GIELIE se broers en susters

Oom Andries. Het vroeer gewoon in Upington en geeindig in van Rhynsdorp. Oom Andries was die oom wat ‘n paar vrouens gehad het. Ek onthou die staaltjie wat pa vertel het van hom in die skool wat geweier het om engels te praat. Hulle het groot geword toe die praat van engels ‘n soort van ‘n vloek was. Die juffrou wou gehad het dat hy engels moes praat maar hy het prontuit geweier. Toe die juffrou hom oor die skoot wou trek vir ‘n pak het hy haar in die binneboud gebyt en by die klas uitgehardloop. Ek het by Oom Andries gaan kuier op sy oudag daar in van Rhynsdorp en het sy seun Donnie weer by ma se begrafnis ontmoet.

Tannie Hanna. As kind het ons gereeld by haar en oom Kolie op die plaas naby Kliprand gekuier. Sal nooit die plaashekke se oopmaak vergeet nie. In die nag moes ek oopmaak en Oupa Gielie wat my laat hardloop agter die motor aan as ek wou inklim. Dinge van die plaas wat ook onthou was die skaars aalwyn “Kannie Dood” wat ek terug Alexanderbaai vir Mnr Klem gevat het en ook dat daar geen elektrisiteit was en ons saans met parafien lampe moes klaarkom.

Oom Kobus. Die enigste oorlewende van die geslag en ‘n baie sagte mens. Altyd by hulle op Vredendal gaan kuier. Hul kinders Willempie, soos ons hom genoem het kleintyd en Anita was ook by die begrafnis.

Oom Gert. Hy was die jongste broer. Ek kan hom nie baie goed onthou nie maar is baie verwyt deur pa dat ek net soos hy ,as jongste bederf is deur ons ma.


OUMA ANNIE se broers en susters

Weet hulle was agt kinders maar kan nie die een vind nie.

Oom Bertus. Dit was seker die een oom wat ons die meeste besoek het op Nababeep. Die rede was eenvoudig. Oom Bertus en tannie Sannie het twaalf kinders gehad en almal van ons het ‘n speelmaat gehad. Ouma Annie sal seker nie omgee nie, maar sy het my vertel dat as sy en tannie Sannie dieselfde tyd babas gehad het en die een het nie genoeg melk gehad nie het die baba sommer aan die een gedrink het. Oom Bertus was die man wat ek altyd die trotse op was, want ek het sy naam gedra. Hulle en ons was so baie kinders dat Gielie na Oupa Gielie vernoem is en ek na Oom Bertus, want die name het begin opraak teen die einde. Ek was ook altyd vereer as ons daar gekuier om op hierdie oom se skoot te kon sit. Hy was ‘n dierbare mens en sou ure alleen koerant lees. Oom Bertus was ook ‘n legende kerkman op Nababeep en het soos sy pa menigte kerkdienste gelei op Nababeep. Daar het ek ook as kind met huis godsdiens geleer om lank op my kniee te bid en het ons gesange ook gesing. Verskoon , maar as ek aan Oom Bertus dink dan moet ek ook van ons geliefde Dowe Tannie se stories vertel. Sy was ‘n niggie of iets van hul gesin en was doof en haar dowe dogter Ida het ook daar gebly. Oupa Gielie het haar tot vervelens toe geterg. Hy het of die dogter geterg en was vreeslik lief om Dowe Tannie se blik onder die bed te probeer gaps. Dowe Tannie het so kwaad geraak dat sy die hele lot van ons uit die huis gejaag het. Ek as ‘n kleintjie was vir haar vrek bang. Op Nababeep het Gielie en Hugo my leer duif eiers eet. Vader weet hoe hulle kos in al ons mae kon kry. Gielie was ook by ouma Annie se begrafnis en bly ook op Worcester.

Oom Charles. Dis die oom wat in die tweede wereldoorlog geveg het. Oom Charles het later jare ‘n paar keer by ons kom kuier en regtig ook ‘n dierbare mens.

Ouma Alie. Dis die ouma wat ons altyd op Malmesbury gaan kuier het. As ek reg onthou was Ouma Allie getroud gewees met Pa se familie. Daar was dus dubbelle bande en nog ‘n Nieuwoudt / Meyer kombinasie. Ouma Alie is oorlede toe ek nog ‘n kind was maar sy was net soos ma lief vir praat. Ds Gideon was ook by ouma Annie se begrafnis.

Tannie Lettie. Was klein gewees maar onthou sy is oorlede met bloed kanker. Was ‘n groot skok vir ouma Annie gewees en het ons ‘n paar keer daar by Vaalharts by die Engelbrechts gekuier. Ek kan onthou dat ek daar een keer ‘n trekker per ongelukkig aan die gang gekry het en afgespring en weggehardloop het. Het my half dood geskrik.

Oom Hugo. Het baie by hom en tannie Ria gekuier in Bellville. Nou nog as ek daar verbyry kry ek terug herringe van ons kuiers daar. Tannie Ria was ook vir ‘n tyd saam met Ouma in die Edelweis en Sarel Meyer hul seun was ook by ouma se begrafnis. Oom Hugo was ‘n dierbare mens.

Oom Giel. Hy is oorlede terwyl ek jonk was. Hy het in Pretoria gewoon en onthou ek dat ons daar gekuier het toe Andri getrou het. Onthou hoe almal gelag het toe ek en hul oudste dogter, Elsabe se sweetpak broek voor almal afgetrek het toe ons gekyk het wie die langste was.

Tannie Rina. Sy was ‘n aanneem kind en het ons by haar en Oom Kootjie ‘n slag op Keetmanshoop op die plaas gekuier. Vleis gewerk dat die biesies bewe.

Ander:

Oom dowe Jan en Tannie Sarie
Ek moes altyd daar gaan bly het as ma hulle moes weggan na begrafnisse ens. Die twee dowe mense was deel van ons gesin. Pa was hulle rekenmeester en het al hul geld sake bedryf. Hulle het ons leer kommunikeer met dowe mense en ek was maar al te bly om daar te slap want ek hoef eers tien uur in gewees het. Oom dowetjies was ‘n kranige rugbyspeler en sale k nooit vergeet hoe pa met toetse altyd vir hom op ‘n stuk papier die wedstrydvloei moes aandui. As die Bokke na aan drie druk kom het hy net vir ons dopgehou en gejuig as daai drie gedruk word.

Oom Dirk en Tannie Hannatjie
Hulle was familie maar ook baie deel van ons. Oom Dirk he took gewoon in Alexanderbaai en het baie by ons gekom. Gerrit hul seun was ook by ouma se begrafnis gewees.

Sal later vertel van die Nieuwoudts, ouma Annie en oupa Gielie se gesin se wedervaringe. Sal baie versigtig moet wees en moet Gideon maar die sensor werk doen.

Anonymous said...

wsag wcmpn [URL=http://www.katesxxx.com]milfs[/URL] gtmfjk f ig j qqc

Annelise Obermeyer said...

Ons mis vir Ouma ekstra baie hierdke week. Sou haar 100ste verj gevier het. Ek maak met ekstra liefde die Ouma Annie gehekelde skapie ter ere van haar. Ouma pronk nou op voorskote, bekers ens maar sy sal vir ewig in ons harte en herineringe gegrafeer wees. Dankie dat ek soveel van Ouma in my ma sien. Ek mis vir Oupa ook baie. Sou so graag my 2 kinders vir hom wou wys. Dalk is die verlange ekstra omdat ons in Grendeltyd sit. Elkeen vasgevang in sy eie wereldjie met sy eie gedagtes. Ek besef daagliks hoe bevoorreg ons is. Tyd op die aarde is kort en daarom moet ons mekaar koester en omvou in omgee en liefde, mekaar aanvaar en respekteer. Attitude is a choice. Sommige dae sukkel dit om soos die sonneblom na die son te draai soos ouma vir my geleer het, maar ons probeer ons beste. Dankbaar ❤🌻❤